SUIDLAND MEDIA: 'N BEKENDSTELLING

WIE IS SUIDLAND MEDIA?

Suidland Media is ‘n vereniging wat ten doel het om Afrikaners in te lig aangaande sake van historiese en komtemporêre aard. Die vereniging staan op die Christelik-Nasionale grondslag en opereer binne die beginsels van Afrikanernasionalisme, wat wedersydse respek vir die regte van alle volkere insluit. Die vereniging vloei voort uit die herdenking van die Tweede Vryheidsoorlog en die historiese dinamiek wat daardeur na vore gekom het.

Suidland wil graag voortbou op die waardeskeppende tradisie van die Afrikanervolk. Afrikaners is ware waardeskeppers. Oor meer as 300 jaar is ‘n land aan die wildernis en die barbarisme ontruk en in ‘n beskaafde woonplek omskep. Afrikaners het egter nie net vir hulleself waarde geskep nie en ook nie ten koste van ander volke nie. In 1971 het Dr Anton Rupert hierdie waardeskeppingsproses beskryf as die “besteding van ons energie aan die ontwikkeling van ons medeburgers en buurstate”. In 1996 het hy soos volg daarna verwys: “Ek glo dat geen klein volk in die geskiedenis ooit vrywilliglik soveel bates oorgedra het as ons poging tot die skepping van tien nuwe republieke in ons land nie.” Vandag nog word miljoene mense in Suidelike Afrika gehuisves, gevoed en aangetrek as gevolg van die skeppende werk van Afrikaners.


WAAROM IS SUIDLAND MEDIA NODIG?

Die Afrikanervolk bevind homself tans in ‘n voortbestaanskrisis. Ten einde sy voortbestaan as ‘n volk en ‘n toekoms vir sy kinders te verseker, moet die volk weer sy vryheid in sy eie land onder sy eie regering herwin. Daarvoor moet ons egter die wil hê om ‘n vrye volk te wees, sowel as ‘n besef van ons ware identiteit. Dit bestaan egter nie meer nie, want deur ‘n berekende en intensiewe proses van verduistering en verdraaiing van ons geskiedenis het ons ‘n valse identiteitsbeeld en ‘n ongeregverdigde skuldkompleks gekry. Dit kan net reggestel word indien ons volk ingelig word aangaande die ware feite van ons geskiedenis en ons verhoudinge met ander volke. Dit is vir hierdie doel wat Suidland Media gestig is.

Suidland Media is nie ‘n politieke organisasie nie en beplan geensins om by enige politieke aksies betrokke te raak nie. Ons wil graag ons doelstellings op ‘n positiewe, skeppende en toekomsgerigte wyse nastreef en in ‘n gees en styl waarmee alle Afrikaners hulle kan vereenselwig. Die leuse van Suidland Media is “Die waarheid maak vry”, want dit is slegs vry mense wat ware, verskilmakende, skeppende werk kan doen.

Suidland Media beplan om inligting te versprei deur gebruikmaking van die gedrukte, elektroniese, visuele en ander media.


LIDMAATSKAP, FINANSIERING EN BESTUUR

  Afrikaners en ander persone wat hulleself positief met die Afrikanervolk se geskiedenis en sy vryheidstrewe kan vereenselwig en wat bereid is om aktief aan die verwesenliking van die vereniging se doelstellings mee te werk, kan lede word.

  Die vereniging staan onder beheer van ‘n bestuurskomitee van vyf lede.

 

PIKETBERG
Adres: Langstraat 101, Posbus 339, Piketberg, 7320
Tel: (022)  913 2353/913 2391 | Faks: (022)  913 1482 | Sel: 082  493 3785
E-pos: suidland@lantic.net