|
|
|
|
Soos meermale in ons
geskiedenis staan die Afrikaner van die 21ste eeu ook voor 'n
voortbestaansuitdaging en ons moet 'n lotsbeslissende keuse maak.
Die wese van die keuse is
presies dieselfde as dié wat ons voorouers in vorige eeue moes gemaak
het: Ons berus in die verlies van
ons vryheid en ons aanvaar onderwerping aan vreemde heerskappy, wat beteken
dat ons onsself tot 'n magtelose minderheid in ons eie land reduseer; of ons
kies om weer 'n vrye volk te word.
Ons voorgeslagte het, elke keer
wanneer hulle in 'n voortbestaanskrisis gekom het, laasgenoemde keuse gemaak
en die keuse het telkens die volk tot groter hoogtes gevoer. Dit is die positiewe alternatief en dit is
waaroor hierdie boek handel. Die skrywer benader die onderwerp op 'n
saaklike, sistematiese en feitegebaseerde wyse, vanuit 'n Bybelse, historiese
en volkeregtelike perspektief en wel aan die hand van die volgende vrae:
Drie
opsies, naamlik die minderheidsregte-opsie, die volkstaatopsie en die
vryheidsopsie word teen mekaar opgeweeg en 'n beredeneerde keuse ten gunste
van laasgenoemde gemaak. Die skrywer
wys daarop dat die uitslag van die 2004-verkiesing die valse hoop wat baie
Afrikaners nog op die partypolitiek geplaas het om ons belange te bevorder,
finaal vernietig het.
Afrikanerverteenwoordiging in die Parlement het waarskynlik tot onder
4% gekrimp en nie een van die Afrikanerbemande partye staan vir die
herwinning van ons vryheid nie. Selfs
F W de Klerk het na die verkiesing gesê dat ons nou na die
"burgerlike" samelewing moet kyk vir die uitoefening van ons
demokratiese regte. Wat die Afrikaner
se nasionale aspirasies betref, is die sogenaamde "Demokrasie" dus
'n mislukte eksperiment.
Die
omstandighede wat tot die verlies van ons vryheid en ons huidige
voortbestaanskrisis gelei het, word ontleed en hoofsaaklik drie faktore word
geïdentifiseer, naamlik, 'n intense internasionale aanslag, verraad in eie
geledere en onkunde en onbetrokkenheid by die meeste Afrikaners.
Die
huidige stand van sake word sistematies ontleed aan die hand van sterk punte,
swak punte, geleenthede en bedreigings en daar word tot die gevolgtrekking
gekom dat die omstandighede vir die herwinning van ons vryheid uiters gunstig is.
Die
redes waarom ons weer 'n vrye volk moet word, word in hierdie afdeling
behandel. Die volgende word genoem en
volledig gemotiveer: -
Om vry te wees
is die mees vanselfsprekende en logiese staat vir enige volk om in te wees -
Dit is ons Bybelse en volkeregtelike
reg om 'n vrye volk te wees -
Ons het 'n morele verantwoordelikheid
om ons vryheid as volk te herwin -
Vryheid is 'n voorwaarde vir ons
voortbestaan as 'n volk -
Daar kan geen
sprake van 'n oplossing van ons huidige, mees tergende probleme wees as ons
nie as 'n vrye volk weer beheer oor ons eie sake kry nie. ·
Wat weerhou
ons daarvan om weer 'n vrye volk te word? Al
die redes wat aangevoer kan word waarom ons nie weer 'n vrye volk kan word
nie, word een na die ander gestel, ontleed en beoordeel. Daar word tot die gevolgtrekking gekom dat
al die redes neerkom op 'n gebrek aan die wil om vry te word en nie in
omstandighede buite ons beheer nie.
Dit is net onsself wat deur ons eie denke in ons pad staan om vry te
word en nie ander mense nie.
In
hierdie hoofstuk word die verskillende
metodes wat volkere in die wêreldgeskiedenis gebruik het om vryheid te verkry
kortliks vir moontlike gebruik in ons geval oorweeg. Daar word tot die gevolgtrekking gekom dat
die ervaring van ons eie volk in ons twee-eeue lange stryd teen vreemde
oorheersing as die beste bron van
moontlike strategieë vir ons eie stryd kan dien. Die herwinning van hulle vryheid deur die
Transvaalse burgers na die Britse anneksasie van 1877 word as die beste
voorbeeld geneem en ontleed vir toepassing in ons situasie. In die laaste deel van hierdie hoofstuk
word 'n stategie ter herwinning van ons vryheid voorgestel en 'n projeksie
word gedoen van die verskeidenheid stappe waardeur dit behoort te gaan.
Die
skrywer se antwoord op hierdie vraag kan soos volg opgesom word: Ons moet by hart en verstand begin. Die skrywer kom tot die gevolgtrekking dat
ons grootlik ons liefde en waardering vir die fundamentele, ware
verskilmakende dinge in die lewe verloor het.
Ons
het die Bybelse waarhede verloor en ons verhouding met die God van die Bybel
verwaarloos; ons vryheidsdrang,
indentiteitsbewussyn, volksgevoel en toekomsvisie het grootliks gesterf en ons
het toegelaat dat ons band met ons geskiedenis en ons voorouers afgesny
word. Deur 'n berekende, stelselmatige
proses van breinspoeling wat oor dekades gestrek het, het ons die leuen dat
ons as Afrikanervolk ander mense in hierdie land verontreg het, begin glo.
Ons is gekondisioneer om te dink dat ons geen morele grond het nie, dat ons
ons beskikkingsreg oor onsself aan ander mense moet afstaan en dat ons nooit
weer 'n vrye volk sal kan word nie.
Elke individuele Afrikaner moet dus begin om homself in sy eie denke
te ontworstel aan die negatiewe, versmorende en verslawende denkpatrone van
die afgelope veertig jaar, dit wat die grondslag vir die sogenaamde
"Nuwe Suid-Afrika" gelê het.
Ons moet onsself leer om weer op 'n beginsel- en feitegebaseerde, dinamiese
en visionêre wyse te dink en te handel.
Dit is nie nodig dat ons langer soos tarentale met koppe na benede in
die grond rondskrop vir kos terwyl ons in ons denke met kragtige vleuels soos
arende bokant die hoogste bergtoppe tot in die skoon vars lugstrome kan
uitstyg nie. Ons
moet onsself intellektueel immuniseer teen die volksvyandige invloede wat ons
elke dag vanuit die TV-skerms en ander media oorspoel. In ons geestesoog moet ons verder kyk as
die onmiddellike en in die verre toekoms weer 'n vrye Afrikanervolk in sy eie
land onder sy eie regering sien. Ons
moet die vryheidsideaal met oorgawe in ons harte omhels en ook
mede-Afrikaners met entoesiasme daarvoor wen.
Dít is die positiewe alternatief waarvoor ons moet kies. As 'n
meerderheid Afrikaners dit in hulle harte gedoen het en vreemde heerskappy
verwerp het, is die vryheidstryd wesenlik gewen. Die denker en digter George Byron het
gesê: "Die vryheidstryd, as
dit eenmaal begin, word van die vader
bloeiend deur die seun geërf, en die stryd, hoe moeilik ookal, sal altyd gewen word." Die
boek sluit af met praktiese aanbevelings oor wat elke individuele Afrikaner
van vandag af kan doen om sy eie bydrae tot die verwesenliking van die
vryheidsideaal te lewer. Die skrywer
stel dit baie duidelik dat geweld en ondermynende aktiwiteite nie nóu die
antwoord op ons probleme is nie.
Indien die Afrikanervolk sy aanspraak
op vryheid in sy eie vaderland langs vreedsame weg, maar op 'n
doelgerigte, verbeeldingryke en daadkragtige wyse bevorder, sal die huidige
regering gou tot 'n besef van sy morele bankrotskap kom en waarskynlik
vanself verkrummel, sodat geweld dalk glad nie nodig sal wees nie. Verskeie boeke oor die Afrikaner se geskiedenis en
sy kontemporêre voortbestaanstryd het reeds uit Strauss se pen verskyn. In die onlangse tyd het hy ook verskeie
boeke en artikels in finansiële blaaie oor belasting, beleggings en ander
finansiële onderwerpe geskryf. Hy is
‘n professionele rekenmeester van beroep. Die boek word uitgegee deur Suidland
Media. Dit beslaan ongeveer 77 bladsye
en is in 'n aantreklike kartonomslag gebind. PRYS: R80 PER EKSEMPLAAR
(ALLESINSLUITEND) Gebruik asseblief die
vormpie onder die afdeling bestellings om bestellings te plaas of doen dit per
e-pos.
PIKETBERG
|